Christus en die werk van versoening

Vanuit Gospel Translations Afrikaans

Spring na:navigasie, soek

{{info|Christus as Gekruisigde}

Om te probeer om die apostel Paulus se leer van die saligheid saam te vat in die vorm van 'n kort opstel kan inderdaad na dwaasheid lyk. Tog moet ons probeer.

Paulus se verkondiging van die Evangelie spruit voort uit die oortuiging dat Jesus van Nasaret die beloofde "Messias" en die Seun van God is wat God na die wêreld gestuur het in "die volheid van die tyd" om Sy beloftes aan Sy volk Israel te vervul (2 Kor. 1:18-22; 6:2; Gal 4:4). Die belangrike boodskap van Paulus se prediking is die "misterie" van die Evangelie van Jesus Christus (Kol 1:26; Rom 16:26; 2 Tim 1:10). Alhoewel dit voorheen verborge was, is hierdie misterie nou toevertrou aan hom en die ander apostels as "bedienaars van die verborgenhede van God" (1 Kor 4:1; Ef 3:2ff).

Hierdie oortuiging van Paulus help om die verhouding tussen sy leer oor verlossing en die lering van Jesus Christus in die Evangelies te verduidelik. Net soos Christus die koms van die Koninkryk van God beklemtoon het, wat die seëninge van die "toekomstige tyd" in die huidige tyd inlei, so beklemtoon Paulus die koms van Jesus Christus as die Een deur Wie die verlossende seëninge van God nou aan Sy mense gegee is. Die lering van Jesus in die Evangelies is soortgelyk aan 'n musikale overture wat die tema van die hele Nuwe Testament aankondig: die Koninkryk van God het gekom. Paulus ontvou hierdie tema deur 'n omvattende verduideliking van die saligmakende seëninge van die Koninkryk.

Maar hoe verduidelik die apostel die verlossing wat Christus bring? Wat het Christus bereik deur Sy dood en opstanding en wat bied verlossing vir diegene wat aan Hom behoort?

Paulus se opsomming van sy antwoord op hierdie vraag vind ons in 1 Kor 15:3-4: "Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag weer opgewek, volgens die Skrifte." Hierdie opsomming is soortgelyk aan ander in Paulus se sendbriewe (sien 1 Kor 2:2; Gal 6:14). In hierdie gedeeltes verklaar Paulus dat wanneer hy die Evangelie preek, hy op die soendood en opstanding van Jesus Christus fokus.

In Paulus se briewe word verskeie Bybelse temas gebruik om verskillende aspekte van die redding wat Christus vir gelowiges verkry het. te onderskei. Die hooftemas wat Paulus gebruik om Christus se versoeningswerk te beskryf, sluit in: eerstens "offer" of "boetedoening" vir die skuld van menslike sonde, tweedens om God se heilige toorn teen Sy sondige wesens gunstig te stem; derdens "versoening" of vrede met God; vierdens "verlossing" van die vloek en die veroordeling van die Wet, en vyfdens "oorwinning" oor die sonde, dood, en alle magte wat God se Koninkryk teenstaan.

Dat Paulus verstaan dat Christus se dood 'n offer vir die sonde van die mens is, is onbetwisbaar. In 1 Kor 15:3 verklaar Paulus dat Christus gesterf het "vir ons sondes." In 'n ander gedeelte sê hy dat God Sy eie Seun "in dieselfde gestalte as die sondige mens" gestuur het "as 'n offer vir die sonde." (Rom. 8:3). Paulus leer ook dat Christus se dood versoening met die toorn van God gebring het. In Sy heiligheid kan God slegs die sonde verafsku. Maar die wonder van die Evangelie is dat God in liefde Sy toorn deur die dood van Sy eie Seun versoen het. (Rom. 3:25; 5:9-10; 2 Kor 5:21). Christus se boetedoening is ook 'n werk van versoening. Deur Sy dood verwyder Christus elke hindernis op die sondaar se pad na vrede met God.

Hierdie werk van versoening sluit 'n Goddelike aspek sowel as 'n menslike aspek in. Dit verwyder nie net die hindernis van God se toorn nie (Rom. 5:9-10), maar dit roep ook die sondaar op om hom met God te versoen (2 Kor. 5:20). Die tema van verlossing neem 'n prominente plek in in Paulus se begrip van Christus se versoening. Die Bybelse idee van verlossing beklemtoon die betaling van 'n prys wat die sondaar se vrymaking van slawerny verseker (1 Tim. 2:5-6). In een van die duidelikste stellings van Christus se versoening as 'n werk van verlossing, verklaar Paulus "Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word" (Gal. 3:13). Ten slotte, 'n funksie van Christus se werk van versoening wat misgekyk word, is die oorwinning wat dit behaal het oor die mag van die sonde, dood, en inderdaad elke vorm van teenkanting teen God se Koninklike Heerskappy (1 Kor. 15:54-57). Deur Sy dood en opstanding het Christus die magte ontwapen wat God se koninkryk teenstaan (Kol 2:13-15).

Die kernboodskap van Paulus se prediking is ongetwyfeld dat God ingegryp het in die geskiedenis, in die Persoon van Sy Seun Jesus Christus, Wie se versoenende dood en opstanding verlossing meegebring het. Die Evangelie volgens Paulus sluit egter die toepassing van verlossing in Christus in vir gelowiges wat in Christus verenig is met die hulp van Sy Gees. Selfs al beklemtoon Paulus nie 'n spesifieke "volgorde van verlossing" (ordo salutis) nie, is die beginsels van so 'n volgorde duidelik uit sy sendbriewe (sien Rom. 8:30; 1 Kor 1:30; 6:11).

Die mees inklusiewe manier waarop Paulus die toepassing van die saligheid beskryf is in terme van die gelowige se eenwording met Christus. Wanneer gelowiges met Christus een word met behulp van Sy Gees, het hulle ten volle deel aan al die voordele van Sy soenoffer wat Hy namens hulle bewerkstellig het (Rom. 8:2,11; 1 Kor 6:11; Ef 4:30).

Vir die doel van ons kort opsomming is drie voordele van eenheid met Christus van besondere belang vir Paulus se begrip van die toepassing van verlossing: vry regverdigmaking, heiligmaking deur die Gees bewerkstellig, en verheerliking.

Vry regverdigmaking. In ons inleiding het ons genoem dat dit algemeen geword het in sommige kringe om Paulus se klem op eenwording met Christus en sy lering oor forensiese regverdigmaking teen te staan (1 Kor 1:30; 6:11). Dit is egter 'n growwe dwaling. Die Hervorming was verseker reg om aan te voer dat die hoofkenmerk van Paulus se lering die leerstelling van regverdigmaking deur genade en geloof alleen was. Verder, in teenstelling met die meer onlangse beweringe deur skrywers wat die "nuwe perspektief" op Paulus aanhang, sien Paulus duidelik regverdigmaking as 'n "soteriologiese" tema [wat die koms van 'n verlosser predik]. Regverdigmaking beantwoord nie slegs die vraag of heidene sowel as Jode tot God se verbondsvolk behoort nie, soos baie skrywers wat die nuwe perspektief aanhang, volhou. Dit beantwoord primêr die vraag of enige sondaar, Jood of heiden, aanvaarding by God kan vind ongeag sy sonde en skuld.

Volgens Paulus is regverdigmaking 'n goedgunstiglike handeling van God waardeur Hy die sondes van gelowiges vergewe en hulle regverdig verklaar op grond van die toepassing van die regverdigheid van God (Rom 4:1-5; 5:15-17, 10:3, 2 Kor 5:21; Fil 3:9). Alhoewel almal gesondig het, moes Christus sterf vir die sondes van Sy volk en opgewek word vir hulle regverdigmaking (Rom. 4:25). Behalwe enige "werke" wat in gehoorsaamheid aan die wet uitgevoer is, spreek God almal vry wat Christus deur die geloof ontvang het (Rom. 3:28; Gal 2:16). Hierdie voordeel van die vrymaking is 'n deur en deur eskatologiese seën van die verlossing wat verklaar "daar is nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie" (Rom 8:1).

Gees-bewerker van heiligmaking. Almal wat een is met Christus is vervul met Sy lewegewende Gees (Rom. 8:4-11). Gelowiges is nie net regverdig verklaar in vry regverdigmaking nie, maar hulle is ook vernuwe na die beeld van Christus (2 Kor. 3:17-18). Die krag en heerskappy van sonde is gebreek. Deur hul eenwording met Christus in Sy dood en opstanding, kan gelowiges hulleself nou beskou as dood vir die sonde en lewend tot die geregtigheid (Rom. 6:12-14). Die nuwe status wat gelowiges geniet (regverdigmaking) gaan altyd saam met 'n hernieude lewe van gehoorsaamheid wat in die gelowiges bewerk word deur die Gees van Christus (heiligmaking).

Verheerliking. Al is dit die gewoonte om aan verheerliking te dink as die toekomstige einddoel van die gelowige se verlossing, praat Paulus van verheerliking as 'n teenwoordige en 'n toekomstige werklikheid (Rom. 8:18ff, 30.). As gevolg van die intieme eenwording van gelowiges met Christus, is die verheerliking van Christus in Sy opstanding en hemelvaart ook die verheerliking van gelowiges. Gelowiges sit nou alreeds saam met Christus in die hemele (Ef. 2:6). Daar bly egter die verwagting van 'n verheerliking van gelowiges wat nog in die toekoms lê (2 Thess 1:10). Solank as wat hulle in hierdie wêreld leef, wag gelowiges gretig vir die dag wanneer hul "liggame van vernedering" verander sal word om te wees soos Christus se verheerlikte liggaam (Fil. 3:21).

Die Evangelie volgens Paulus kan opgesom word as die glorieryke boodskap van God se vervulling in Christus van al Sy beloftes van verlossing vir Sy volk. Die kernboodskap van al Paulus se prediking is redding deur die gekruisigde en opgestane Christus. Christus het versoening vir die sondes van Sy volk voorsien wat elke aspek van hul sondige toestand insluit. Deur eenheid in geloof met Christus, geniet gelowiges al die voordele van hierdie versoenende werk. In die merkwaardige woorde van 2 Korintiërs 5:17: "Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom." Die wat in Christus is geniet 'n nuwe status van vrye aanvaarding deur God ten spyte van hul onwaardigheid as sondaars. Hulle ervaar ook die genade van 'n nuwe lewe van gehoorsaamheid aan die "wet van Christus" deur die werking van die Heilige Gees. En hulle ken die genade van die teenwoordige sowel as die toekomstige verheerliking, wanneer die "eerste opbrengs" van verlossing in Christus sal uitvloei in die eskatologiese oes van volledig deel hê in die oorwinning van Christus se opstanding.